• Herschelle Benjamin

#Woordfees2018: Klippe Wat Val - Van klippe na verskietende sterre...


Iemand het onlangs gesê baie Oscar-wenners word fyn dop gehou eers ná hul wen. Ek haal aan: “Wat ná die Oscars gebeur is meer belangrik. Sommige akteurs se loopbane lei geweldig daaronder. Andere druk hul stempel af met daardie toespraak vir ‘n lang en suksesvolle loopbaan tot en met hul laaste asem.” En met Philip Rademeyer, Kaapse dramaturg en regisseur, was die Oscar-oomblik(ke) maar net die begin van groot dinge – As (2015), Adam Twee (2016), Wild (2017 & 2018) en nóú, Klippe Wat Val (2018)!

Klippe Wat Val vertel die storie van Kannetjie en Abrie wat vertolk word deur Wilhelm van der Walt en Dean-John Smith. Soos in Wild, het Rademeyer weer ‘n storie wat ‘n sterk aanspraak maak oor temas tussen mens en dier – die grys areas, die korrelasies asook die botsings. En sy skrywerstem is diep gewortel in die natuur buite die metropole of voorstede. Sy karakters leef, beleef en wroeg tussen sand, klip, grond, hondehokke, maan, sterre en daar waar mense eerlikheid en sterk geloof soos paspoorte dra. Maar wat altyd weerspieel word in sy tekste is die dogmatiese verhoudings tussen karakters waarin ‘n gehoorlid ‘n relevansie of representasie kan sien. Van boesemvriende na vreemdelinge... Van werkers na familie... Van kleur na bloed... Van klippe na verskietende sterre...

En wat meer kan mens sê van die bekroonde akteurs wat in die produksie die karakters vertolk het. Dean-John Smith, wat tans in KykNet se Suidooster sepie te siene is bewys weereens hy is ‘n gerekende teatervors wat nog lank nie klaar is met die planke nie. Sy karakter, Abrie is ewe skerp en het ‘n emosionele sensitiwiteit wat dit byna moeilik maak om hom ook as Kannetjie se ma te sien. Maar selfs dit doen hy met gemak en oortuiging. Sara, is die derde karakter wat Smith vertolk en met sy hande in die voorskoot en fisikaliteit sit jy oopmond. Dalk is mens bederf vir keuse tussen Smith se karakters dat jy hom soms net in een rol wou gesien het maar hy bewys hy KAN en ja, hy MAG MAAR.

Wilhelm van der Walt het ‘n delikate, kragtige en oortuigende Kannetjie tot die lewe gebring. Die hoendervleis in daardie laaste monoloog wat effektief verbeeld word vir die gehoor in beligting met die “val van die klippe” is een beeld (en monoloog) wat vir lank nog in my geestesoog sal wees. Tegnies sterk en afgerond tussen jonger en ouer Kannetjie! Van der Walt wat ook in Liewer deur Jaco Bouwer was by vanjaar se fees bewys sy vakmanskap is altyd in erns en deeglik. Hy het in my opinie ‘n “Streep-kwaliteit” wat sterk deurkom in hierdie produksie.

Gideon Lombard het die klankbaan behartig op die verhoog en elke toneel musikaal ingekleed. Jy sien hom soos jy in kom maar sy teenwoordigheid word dieper gevoel op 'n pragtige manier deur elke string van sy akoestiese kitaar. Hy was ook vanjaar in 'Die Reuk van Appels' en regisseur van 'Moord in Ixistraat'. Hy bewys dat hy 'n veelsydige kunstenaar is.

Soms betaal mens vir ‘n kaartjie en wens jy kan die geld terug kry maar met hierdie produksie moet die prys verdubbel word want soms besef ons nie hoe bevoorreg ons is met kunstenaars wat hulle harte, liggame en sommer als deel in teks, regie en spel.

#Afrikaanstheatre #Afrikaans #USWoordfees #SouthAfricantheatreFestival #Festival #CapeTownTheatre #UKtosouthafrica #Karoo #PerformingArtsPhotography #OnStage #PhilipRademeyer #DeanJohnSmith #Vultureblog #vulturephotographyproject #Vulture #vultureproductions #theatre #FarmLife #southafricantheatre #Theatrecapetown #theatrescenecapetown

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle
  • Twitter - Black Circle
  • YouTube - Black Circle