• Herschelle Benjamin

#Woordfees2018: Manne, dis ‘n voorreg...


Manne dis ‘n voorreg… hoor ek Refentse, Ricus Nel, Bok van Blerk en Adam Tas in die verte. En dit was sowaar ‘n voorreg om in die gehoor te sit vir die produksie van Manne, vervaardig deur GZ Produksies met ‘n geselskap wat bestaan uit Chris Vorster, Hennie Jacobs, Theo Jantjies, Hannes Brümmer en Francois Lensley. Chris het terselfdetyd ook die regie behartig. Hierdie produksie is moontlik gemaak deur Aardklop en het hierdie jaar se Woordfees-gehore op die kielie-bielie gehad.

Die produksie is ‘n uiterse waansinnige en genotvolle komedie wat jou laat skuif tot op die punt van die stoel. En in die gedugte program vanjaar is daar beslis gerekende plek vir hierdie produksie. Soort soek van soort, sê hulle mos en dit was omtrent asof die regte gehoor gekom het vir die tweede laaste vertoning van Manne. Hulle geniet die Afrikaanse taal en sy buigbaarheid, hulle kners nie so baie op die tande oor vloekwoorde nie, hulle ken sulke karakters in families en hulle was al by ‘n hele paar reünies. Maar ek was ook daar. Met my los jong tong, millenial wokeness en passievolle kunstige hart. Hoewel ek nie heeltemal hul teikenmark was nie, het die produksie tog bewys dat hulle teikenmark eintlik ALMAL is.

Die teks is gemaklik en verleen hom aan idiome, testeroon-grappies en lui-lekker gemak vir die akteurs in hul spel. Die verhoog was eenvoudig en die verandering van milieus was gedoen met vierkantige bokse wat die akteurs behartig het as deel van die toneelstuk maar nogsteeds in karakter. Hulle agtergrond was ‘n projeksie waarop die ander virtuele spel en storie ook spanning gebou het oor wie het regtig vir Daan doodgeskiet tydens die jag-ekspedisie in die veld. Die storie word uitgebeeld op verhoog as in die hede en dan op die projeksie as die “verdagte en betrokke” karakters in die ondervragingskamer van die plaaslike polisiestasie. Bosman is die eerste verdagte a.g.v sy gevoelens oor die uwe Daan wat net oorlog-staltjies ken en wie meer “manlikheid” het as die hele groepie stadsjappies van Pretoria.

Sonder om nog te verklap moet jy die produksie self onder die oë gaan kry sodat Hannes Brümmer jou laat skaterlag met sy oortuigende en geloofwaardige karakter. Dalk ken hy komedie net te goed... Theo Jantjies het Johnny lig en menslik vertolk voor ‘n amper-vol gehoor in die KykNet Hoërskool Stellenbosch saal.

#Woordfees2018 #USWoordfees #StellenboschUniversity #stellenbosch #Manne #7deLaan #TheoJantjies #Afrikaanstheatre #afrikaanstheatre #Afrikaans #SouthAfricantheatreFestival #festival #TheatreFestival

  • Facebook - Black Circle
  • Instagram - Black Circle
  • Twitter - Black Circle
  • YouTube - Black Circle